Vanoggend vaar ek weer in die tuin
in, en tipies van my aard, ontaard dit in totale skoonmakery (ʼn eienskap wat
nie baie goed by werkgewers, veral die kerk, afgaan nie).
Maar terwyl ek so besig is om van ál
die onkruid, wat alles verswelg, ontslae raak, tref hierdie lewenswaarheid my.
Onkruid is ʼn interessante ding. Dit
groei soms welig en neem alles oor. Alles is ook nie noodwendig onkruid nie.
Sommige rankplante of grondbedekkers het ʼn goeie doel, maar as jy dit nie
beheer nie, kan dit soos ʼn onkruid raak en alles oorneem.
Die gevolg is dat dit alles begin
verswelg. Dit groei deur die plante, oor die struike en al wat jy naderhand
sien, is net die onkruid of rankplant.
Ander weer het die vreeslikste
dorings wat dit vir jou onmoontlik maak om in die bedding by die ander plante
uit te kom.
So is dit ook met onkruid in ons
lewens. Soms dink ons die dinge is nie sleg nie, want dit lyk dan so mooi of
reg. Dikwels is dit of pas by ons waardesisteem. Ander kere mag dit voorkom of ʼn sekere ding in
ons lewens ʼn goeie doel vervul. Soos ʼn rankplant. Maar los ons dit om net
onbeheerst te groei omdat ons nie ons gedagtes en denke beheer nie, verswelg
dit naderhand ál die ander mooi dinge en word ons lewe eenogig.
So ook is daar soms gevaarlike
doringagtige goed wat geplant word. En hoewel dit dalk mooi rose of ander
blomme kan dra, kan dit baie seer veroorsaak as dit begin om te steek.
Die geheim in ons lewens is
beheersing van en balans in ons gedagtes.
Wanneer jy agterkom dat daar so ʼn
onkruid is wat ʼn bietjie te veel ruimte in jou gedagtes opneem, is dit tyd om daarvan
ontslae te raak. Sny daai rank- of doringplant bietjie uit en kry dit onder
beheer.
Jy sal dit agterkom as jy eendag
besef jou lewe is belemmerd. Jy het nie meer blydskap of vreugde nie. Jy staan
met ʼn swaar gemoed op of alles voel net uitsigloos.
Wat is hierdie onkruid in ons lewens
waarvan ek praat?
Nou voordat jy dink dit gaan hier oor
ʼn lys van sogenaamde sondes, wil ek jou gerusstel. Jy kan ontspan. Ek gaan my
nie besig hou met jou seksuele behoeftes of hoe jy na die surfer op die beach
gekyk het of jou woede oor jou onregverdige baas nie.
Ek wil eerder stilstaan by daai
emosionele bossies wat soms ons lewens in ʼn donkerte kan indryf. Hier is ʼn paar
bossies:
- Onrealistiese verwagtinge
Ons leef dikwels volgens ʼn stel
waardes wat ver van die werklikheid verwyder is. In ons moderne, media
dominante eeu, is hierdie probleem vererger. En dan meet ons onsself aan hierdie
beelde wat óf in ons koppe ingeprop is óf wat ons aan onsself voorhou. Dikwels
deur ons ervarings. Jy skep vir jouself ʼn nuwe prentjie (waarde of beginsel) op
grond van ʼn slegte ervaring en dan probeer jy die werklikheid daarby inpas.
Slaag dit nie, voel jy ʼn absolute mislukking. Hierdie onrealistiese of dikwels
ongebalanseerde gedagtes kan soos onkruid alle nugtere denke oorheers en op die
ou einde jou in ʼn donker ongelukkigheid laat beland wat ʼn oorvloedige lewe van
jou steel. Sommige van hierdie onrealistiese verwagtinge is moontlik:
- Jou beeld van die ander geslag – As vrouens maar net wil besef dat mans is mans en die beeld van die ridder op die wit perd wat deur romantiese hygromans geskep word, is net ʼn storie, dan sal meer verhoudings slaag. Aan die ander kant, as mans net wil besef dat verhoudings gaan nie net oor seks nie, dat ʼn porn star maar net ʼn fiktiewe poppie is en dat vrouens baie ander behoeftes ook het, sal daar baie minder ongelukkigheid wees. Sonder om nou in hierdie ongelooflike komplekse onderwerp in te gaan, die punt wat ek wil maak is dat baie mense het ʼn onrealistiese verwagting van die ander geslag. Dikwels wanneer ʼn persoon na ʼn lewensmaat soek, maar ook in huwelike sien ek dit dikwels, dat twee mense totaal verby mekaar leef en kommunikeer aangesien hulle verwagtinge (waardes) oor die hoe die ander geslag moet wees en optree myle van mekaar (en die werklikheid) verwyder is.
- Verhoudings – In aansluiting by bogenoemde punt, het mense (en ek praat nie net van jong mense nie) dikwels ʼn totaal onrealistiese verwagting of prentjie van wat ʼn verhouding behels en vra. Hierdie totaal onrealistiese verwagtinge kan ʼn onkruid wees wat die lewe uit jou verhouding suig totdat daar niks oor is nie. Dít lei dikwels tot konflik, bakleiery en op die ou einde tot vooropgestelde idees of waardes in veralgemenings soos: “Alle mans is net onbeskof en selfbehepte buffels.”
- Gesin – So ook het mense dikwels glad nie ʼn idee wat dit kos om ʼn kind te kry en groot te maak nie. En met “kos” bedoel ek nie geld nie – of jou tienerseun wat jou kosbegroting eendag totaal gaan ruïneer nie – maar wat die opoffering en prys van ouerskap is. Om ʼn kind te kry verander jou lewe onherroeplik. Kry die romantiese prentjie van die dogtertjie met blonde haartjies in ʼn pienk rokkie wat jy soos ʼn klein puppy kan saamsleep en oral mee spog baie vinnig uit jou gedagtes.
- Geld – O, die I-generasie met hul idee dat hul by ʼn werk gaan instap en onmiddellik pappie se salaris gaan huis toe neem, want “hulle verdien dit mos,” kom sommer dadelik in my gedagtes op. Maar oor die algemeen het mense baie onrealistiese verwagtinge oor geld. En daarom raak baie mense vasgevang in die wêreldsisteem van skuld, onmiddellike gratifikasie en “dobbel”. Met ʼn bietjie kennis kan jy jou lewe omkeer en wegbeweeg van hopeloosheid, ʼn alewige wens dat jy die lotto gaan wen of ʼn lewenslange slaaf van die skuldspiraal bly.
- Werk – Ons almal is mos opsoek na daai sogenaamde (laat ek byvoeg, pie in the sky) droomwerk. Die realiteit is dat jy heelwaarskynlik, selfs in jou droomwerk, 90% van jou werk blote roetine en oninteressant gaan wees en net 10% ware satisfaksie beleef. Daarmee sê ek glad nie ons moet nie ons passies najaag en doen wat ons van hou en mee goed is nie. Dit bly steeds die beste doelwit om na te mik. Vervulling in jou werk is moontlik, maar dikwels kyk of fokus mense, selfs in hul sogenaamde droomwerk, só na en op die probleme, uitdagings of mense wat dit dalk moeilik maak, dat hulle geen vervulling en geluk ervaar nie. Kry die onrealistiese verwagtinge van ʼn Utopia in jou werksplek uit jou gedagtes en staar die werklikheid in die gesig.
- Sukses – Om sukses te definieer is uiters moeilik. Maar baie mense het onrealistiese verwagtinge oor sukses. Of die ander kant - die onrealistiese verwagting dat sukses hulle nie beskore is nie. Mense wat geskrewe doelwitte het en prakties en aktief daarna toe werk om dit te bereik, behaal deurgaans sukses. Baie drome sneuwel omdat onrealistiese verwagtinge oor sukses of die pad na sukses in onkunde gedompel is en jou van ʼn gelukkige en vervulde lewe weerhou.
- Roetine – Roetine is een van die grootste diewe van ons geluk in hierdie twintigste eeu. Mense se onrealistiese verwagting dat die lewe “net moet gebeur,” is ʼn groot onkruid. Die lewe gebeur nie net nie. ʼn Mens moet dit laat gebeur. Maar die gemaksones van elke dag se groef kan ʼn doring wees wat jou baie seer steek. Trek daai onrealistiese verwagting dat die lewe maar net vanself moet gebeur en alles in plek val en voorsien, baie vinnig uit!
- Vrees
Ek staan verstom oor hoe baie mense
in vrees leef. Vrees oor geld, werksekuriteit, politieke stabiliteit (omdat
hulle te veel nuus lees), verhoudings, hulle kinders en die se prestasies,
sekuriteit, ongelukke en nog tien duisend ander goed. Napoleon Hill praat van
die sewe dodelike vrese wat mense se lewens soos onkruid oorrompel en hulle
weerhou van sukses en geluk. Uit vrees begin ons dikwels nie iets nie. Uit
vrees sit ons eerder in ons huise. Uit vrees sê ons ja en amen vir alles – die baas
wat onregverdige eise stel, die dominee of pastoor wat jou met godsdiens probeer
beheer en jou vryheid steel, die politikus wat jou stem met leë beloftes wil werf. Vrees is dodelike onkruid, rankplant en
doring. Vrouens wat uit vrees in ʼn verhouding wil wees of bly. Mans wat uit
vrees onreg toelaat. Vrees om nié ʼn pensioen of mediese fonds te hê nie. Kinders
wat uit vrees in marionette verander word. Vrees dat jou kind gaan druip. Vrees
dat jy nie jou huis se paaiement gaan kan betaal nie. Lidmate wat uit vrees
alles in hulself versmoor en ander wat wegbreek en God kwalik neem oor
mensgemaakte reëls en dogmas. Werknemers wat soos slawe in die korporatiewe
wêreld maar die katshoue vat uit vrees vir hul werk en inkomste. Verbruikers
wat uit vrees miljoene rande se produkte koop. Pasiënte wat uit vrees in
hopeloosheid daagliks hande vol pille sluk terwyl die industrialiste met breë
glimlagte hul groeiende bankbalans dophou. Vrees het die grootste beheerder van
die moderne wêreld geword. ʼn Onkruid, wat jy dalk deeglik moet bekyk.
- Skuldgevoelens
As ek aan my eie lewe dink, dan sien
ek ʼn geskiedenis van leweloosheid omdat ek vir baie jare gekniehalter is deur hierdie
mensgemaakte beheerstelsel. Skuldgevoelens. Hoeveel keer het ek gekies om maar
nie te leef nie, uit skuldgevoelens. Hoeveel keer het ek gaan “bely” en vir dae
lank my lewe op hold gesit omdat ek
skuldig gevoel het oor iets wat ek gedoen, gesê of nie gedoen of sê het nie.
Skuldgevoelens oor ʼn egskeiding van ʼn huwelik wat nooit moes gewees het nie en
nie gewerk het nie. Skuldgevoelens in die werk. Skuldgevoelens oor seks. Die
lys is baie lank. As daar nou een ding in ons lewens is wat ons maar kan
verban, is dit skuldgevoelens. In die godsdienstige instellings (kerke ingesluit),
is dit mos die mees algemene wapen om mense met vrees te beheer. “Jy mag nie
dit nie en jy mag nie dat nie, want dan.....” “Jy moet rooi dra en nie blou nie,
anders....” Omdat skuldgevoelens so ʼn kragtige reaksie in ons emosies tot
gevolg het, is dit een van die groot redes hoekom dit werk om mense te beheer
en ons lam te lê. Volgende keer as jy weer wil skuldig voel, sit daai emosies
eenkant en bekyk dit van ʼn afstand af met perspektief en vra jouself wat lê aan
die wortel van hierdie ding, en dan raak jy van dié onkruid ontslae.
- Pretensies
Ons ouens in ons middeljare verstaan
hierdie een. Tog sien ek dit maar net soveel, maar op ander wyses, by ons
jongmense. My ouma se mees algemene stelling was altyd: “Wat sal die mense
hiervan sê,” of “Wat sal die mense van ons dink.” Die ander kant is mos daai
koppies wat vir tien jaar stof vergader in die “show case” omdat ons dit nie
mag gebruik behalwe wanneer “spesiale” mense kom kuier nie. Of alles wat in
perfeksie moet wees vir ander mense. Baie mense leef egter daagliks só. Mense
leef met voorgee teenoor die dominee of pastoor (asof dié nou enigsins anders
as jy is of jou in God se slegte boekies kan laat beland), die skoolhoof, die
baas by die werk en helaas ook tenoor hul vriende en veral familie. Ons probeer
so voorgee met ons klere, die karre wat ons ry en ons kinders se prestasies.
Asof dit jou waarde gaan bepaal. En ongelukkig doen dit vir so baie mense. Geen
wonder die meeste mense is wrakke as gevolg van stres nie. As jy nou van een
groot stuk doringtak in jou lewe ontslae wil raak wat die lewe uit jou uitsuig
en jou weerhou om werklik te lewe, raak ontslae van pretensie en wees wie jy
is. En leer wie jy IN Christus is, dit bepaal immers jou waarde en jou sukses.
As iemand anders nie hou van wie jy is nie, is dit daai persoon se probleem.
Hoekom jouself ʼn goeie lewe ontneem omdat jy oor ander mense en hul
niksseggende opinies gepla is.
- Onkunde
Die laaste groot onkruid wat mense se
gedagtes gevange hou en hul lewe versuur, is onkunde. Hoewel ons in die eeu
leef waarin kennis en inligting vrylik beskikbaar is, waarin jy jouself met
gemak oor enige onderwerp onder die son kan verryk, is dit seker die mees
oningeligte geslag ooit. Toegepaste kennis kan jou baie ver bring. Maar die
gejaag van die moderne lewe, roetine, vermaak (ja te veel soetsappige stories
op TV), sosiale media en gemak, het tot gevolg dat die meeste mense se breine
met ʼn spul onkruid oorbegroei is, soveel so dat daar weinig vrugbare plante meer
groei. Dit is hoekom mense nie meer kan onderskei nie. Hoekom hulle ʼn mogge
troffe leefstyl volg en maar net hoop vir die beste. ʼn Lewenshouding wat nêrens
heen op pad is nie, dalk net ʼn sinnelose en lewelose aftrede en dood uiteindelik.
Meeste mense se waardes is deesdae geskoei op dit wat hul gevoer word op TV,
flieks, musiek en sosiale media. Onkreatiewe en verbeeldinglose lewens en
verhoudings. O en ons grootste verskoning vir onkunde is tyd. Niemand het kamstig
meer tyd vir niks nie. En dan praat ek nie van ongeskoolde mense wat, helaas
selfs in hierdie eeu nog voorkom nie, ek praat van mense wat hooggeleerd is. Kenners
op hul gebied, maar verder onkundig oor die lewe. Lewe, sukses en geluk, is moontlik wanneer jy die bedding van jou
gedagtes skoonmaak van onkruid en dit plant met vrugbare, kleurryke en pragtige
plantegroei.
- Vir meer inligting, of om my te kontak, besoek my gerus by www.wilcoroberts.co.za
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking