Dooie
takke is ʼn interessante fenomeen.
ʼn
Tuin, of die natuur, en hier verwys ek spesifiek na die flora, word gekenmerk
deur die wisselwerking tussen lewe en dood. “Geboorte en sterfte” as jy wil.
Dit
gaan saam met seisoene, ʼn ander onderwerp wat ek nie hier wil aanraak nie. Daar
is ʼn tyd wanneer die natuur in volle blom is, nuwe blare word gevorm en takke
uitgestoot. Dan is daar ʼn ander tyd wanneer alles begin verkleur en blare sterf
en afval. Dan kry ons weer ʼn tyd waar die natuur rus. In die grootste deel van
ons land is alles vaal en dood voordat daar weer nuwe lewe begin uitspruit in bloeisels
en nuwe blomme, blare en takke wat uitkom, groen en vol lewe.
So
in ʼn natuurlike proses sien ons dan dat daar ʼn tyd kom wanneer die takke begin
doodgaan en, indien dit nie gesnoei word nie, wel later afval om plek te maak
vir nuwe lewe.
Dink
daaroor, as ons dit deurtrek na ons lewens toe, indien jy nie die snoei proses
deurgaan nie, sal die dooie hout wel met tyd in jou lewe wegval, dikwels in ʼn
baie moeiliker en pynliker pad as wat die snoeiery gebeur en vinnig oor en verby
is.
Nóg ʼn
interessante aspek van dooie hout is dat nie alles noodwendig vir ons verlore
is nie, maar so is alles ook nie net goed nie. Die regte hout kan opgetel en
gebruik word vir energie. Kos of hitte kan daarmee geproduseer word. Dooie
blare en gras kan gebruik word om kompos te maak wat weer help om beter lewe
voor te bring.
Alle
dooie goed is egter nie noodwendig bruikbaar nie. Ons kry byvoorbeeld sekere
bome wat uiters giftig is vir menslike gebruik. Of hout wat so vinnig wegbrand
dit is van geen waarde nie.
In
die vorige blog het ek geskryf oor die feit dat die dooie goed in ons lewens ons
verhinder om werklik ʼn vrugbare, sinvolle en gelukkige lewe te lei. In die
volgende paar weke gaan ons kyk na verskillende dooie takke wat ons lewens op ʼn
emosionele en verstandelike vlak negatief beïnvloed.
Baie mense leef in die verlede. Sommige goed uit die
verlede waaraan hul vasklou is positief en sommige is negatief. Verlede week
het ons by die positiewes stilgestaan en in dié blog kyk ons na van die
negatiewes.
1. Mense. Niemand leef op ʼn eiland nie,
al is jy hoe ʼn introvert wat ʼn kluisenaarsbestaan voer. Daar bestaan nie iets
soos ʼn “self-made man” nie en daar is ook niemand wat kan beweer dat hy of sy
immuun is teen ander mense nie. Die samelewing bestaan uit mense en ons almal
het gesinne, families, vriende en kollegas. Êrens is jy deel van ʼn groep, of
dit nou mense is wat saam in jou gym is, lidmate in ʼn kerk, die motorfiets- of
naaldwerkklub of waar ook al. Selfs al gaan jy net winkel toe is jy in daai tyd
deel van ʼn groep wat genoem word kliënte en kruis jou pad met ander mense. Hier
is beslis nie genoeg plek en dit is ook nie die forum om in detail oor ons
verhouding met mense in elke groep in te gaan nie. Ek wil net vir ʼn oomblik
stilstaan by die feit dat 90% van alle mense meestal ander mense verantwoordelik
hou vir hul ellende, ongelukkigheid en verbittering. In die meeste areas is
mense direk of indirek betrokke en kan mense voorgehou word as die rede vir jou
mislukkings, ongeluk of ongesteldheid. Die mees waardevolste les wat ek in die
lewe geleer het, maar dis ʼn bitter harde les, is dat die bal by my stop. Ekself
is verantwoordelik vir my lewe en dit wat met my gebeur. Ander mense gaan altyd
op een of ander manier op jou tone trap. Mense verskil, persoonlikhede verskil,
waardesisteme verskil en kulture verskil. Jy kan maar weet dit sal gebeur.
Daarom is dit belangrik om te vergewe, die situasie eerlik in oënskou te neem
in plaas daarvan om in emosionele reaksies te gaan en aan te gaan met jou lewe.
Dit help nie om in negatiewe emosies oor ander mense vas te sit vir die res van
jou lewe soos wat baie mense doen en dan verbitterd oud raak nie. Of dit nou ou
familie vetes is, ʼn eks man of vrou, ʼn kollega, vriend of selfs net die ou in
sy Fortuner vanoggend wat jou parkeerplek gesteel het. Maak jou los van die
negatiewe goed wat gebeur het met mense uit die verlede. Dit beteken nie jy
moet noodwendig nou met daai mense iets te doen hê nie. Dit beteken jy maak
jouself los en beweeg aan. Kry daai dooie hout uit jou verstand, emosies en tong
uit.
2. Werk. Vir sommige mense is gebeure uit
die verlede in die werksplek, of selfs die feit dat hulle nie bevordering gekry
het of dalk ʼn bepaalde werk gekry het nie, ʼn groot ou dooie tak in hul lewens
wat hul sig na die son en lewe versper. Werksplekke, maak nie saak waar dit is
nie, is altyd ʼn teelaarde vir konflik, ongeluk en negatiewe emosies. In
retrospek het ekself die afgelope tyd besef dat ʼn vorige werkplek, waar ek in
my siel in ongelukkig was en elke oomblik daarvan verpes het, eintlik die teelaarde
was vir baie positiewe dinge in my lewe wat nodig is. ʼn Komposhoop is nou nie ʼn
plek om jou ontspannende middag damestee aan te bied nie, maar sonder die
kompos mag jy dalk nie so ʼn welige groen grasperk en mooi blombeddings hê sodat die dames hulle in kan verlustig in die
heerlike funksie nie. Raak ontslae van dooie hout uit jou verlede en hou op om
vas te sit in goed wat was en gebeur het en goed wat jy gehoop het kon wees.
3. Gesondheid. ʼn Mens se gesondheid is een
van die grootste gawes in die lewe. Soms gebeur daar goed wat jou gesondheid nadelig
beïnvloed wat nie die direkte oorsaak van jou eie nalatigheid was nie soos ʼn
ongeluk of lugbesoedeling. Maar die realiteit is dat baie mense nooit na hul
liggame omsien en dit oppas met hul diëte, oefenprogramme, ontspanning (en
stres-vermindering) en ʼn gesonde gewoontes asook leef- en denkstyl nie. Wanneer
die gevolge op verskeie maniere na vore kom, word baie mense negatief en
verbitterd of raak dit net ʼn stryd om oorlewing. Die ongelooflike van ons
liggame is egter dat dit nooit té laat is om te begin nie. Soms is die skade so
groot en die lewensjare te ver gevorderd dat daar nooit volkome herstel sal
wees nie. Maar ʼn mens kan ʼn gesonde liggaam tot op ʼn hoë ouderdom geniet met
die regte aanpassings in siel, liggaam en gees. Raak dus ontslae van die dooie
hout van skuldgevoelens, verwyte, verbittering, slegte gewoontes en emosionele
reaksies en skuif jou fokus reg.
Soos wat ons die dooie hout uitsny en meer positief
begin leef en die son meer op ons lewensblare skyn, sal die vrug van geluk en
vrede vir jou ʼn baie meer positiewe, produktiewe en vrugbare lewe laat geniet.
Begin vandag en maak jou kop skoon van daai negatiewe
dooie hout uit die verlede.
- Vir meer inligting oor al my dienste, terapie en berading wat beskikbaar is, gaan na www.wilcoroberts.co.za
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking