Maandag 29 Februarie 2016

Raak ontslae van (emosionele) onkruid en begin lewe


Vanoggend vaar ek weer in die tuin in, en tipies van my aard, ontaard dit in totale skoonmakery (ʼn eienskap wat nie baie goed by werkgewers, veral die kerk,  afgaan nie).

Maar terwyl ek so besig is om van ál die onkruid, wat alles verswelg, ontslae raak, tref hierdie lewenswaarheid my.

Onkruid is ʼn interessante ding. Dit groei soms welig en neem alles oor. Alles is ook nie noodwendig onkruid nie. Sommige rankplante of grondbedekkers het ʼn goeie doel, maar as jy dit nie beheer nie, kan dit soos ʼn onkruid raak en alles oorneem.
Die gevolg is dat dit alles begin verswelg. Dit groei deur die plante, oor die struike en al wat jy naderhand sien, is net die onkruid of rankplant.

Ander weer het die vreeslikste dorings wat dit vir jou onmoontlik maak om in die bedding by die ander plante uit te kom.

So is dit ook met onkruid in ons lewens. Soms dink ons die dinge is nie sleg nie, want dit lyk dan so mooi of reg. Dikwels is dit of pas by ons waardesisteem.  Ander kere mag dit voorkom of ʼn sekere ding in ons lewens ʼn goeie doel vervul. Soos ʼn rankplant. Maar los ons dit om net onbeheerst te groei omdat ons nie ons gedagtes en denke beheer nie, verswelg dit naderhand ál die ander mooi dinge en word ons lewe eenogig.

So ook is daar soms gevaarlike doringagtige goed wat geplant word. En hoewel dit dalk mooi rose of ander blomme kan dra, kan dit baie seer veroorsaak as dit begin om te steek.

Die geheim in ons lewens is beheersing van en balans in ons gedagtes.

Wanneer jy agterkom dat daar so ʼn onkruid is wat ʼn bietjie te veel ruimte in jou gedagtes opneem, is dit tyd om daarvan ontslae te raak. Sny daai rank- of doringplant bietjie uit en kry dit onder beheer.

Jy sal dit agterkom as jy eendag besef jou lewe is belemmerd. Jy het nie meer blydskap of vreugde nie. Jy staan met ʼn swaar gemoed op of alles voel net uitsigloos.

Wat is hierdie onkruid in ons lewens waarvan ek praat?

Nou voordat jy dink dit gaan hier oor ʼn lys van sogenaamde sondes, wil ek jou gerusstel. Jy kan ontspan. Ek gaan my nie besig hou met jou seksuele behoeftes of hoe jy na die surfer op die beach gekyk het of jou woede oor jou onregverdige baas nie.

Ek wil eerder stilstaan by daai emosionele bossies wat soms ons lewens in ʼn donkerte kan indryf. Hier is ʼn paar bossies:

  • Onrealistiese verwagtinge

Ons leef dikwels volgens ʼn stel waardes wat ver van die werklikheid verwyder is. In ons moderne, media dominante eeu, is hierdie probleem vererger. En dan meet ons onsself aan hierdie beelde wat óf in ons koppe ingeprop is óf wat ons aan onsself voorhou. Dikwels deur ons ervarings. Jy skep vir jouself ʼn nuwe prentjie (waarde of beginsel) op grond van ʼn slegte ervaring en dan probeer jy die werklikheid daarby inpas. Slaag dit nie, voel jy ʼn absolute mislukking. Hierdie onrealistiese of dikwels ongebalanseerde gedagtes kan soos onkruid alle nugtere denke oorheers en op die ou einde jou in ʼn donker ongelukkigheid laat beland wat ʼn oorvloedige lewe van jou steel. Sommige van hierdie onrealistiese verwagtinge is moontlik:
  • Jou beeld van die ander geslag – As vrouens maar net wil besef dat mans is mans en die beeld van die ridder op die wit perd wat deur romantiese hygromans geskep word, is net ʼn storie, dan sal meer verhoudings slaag. Aan die ander kant, as mans net wil besef dat verhoudings gaan nie net oor seks nie, dat ʼn porn star maar net ʼn fiktiewe poppie is en dat vrouens baie ander behoeftes ook het, sal daar baie minder ongelukkigheid wees. Sonder om nou in hierdie ongelooflike komplekse onderwerp in te gaan, die punt wat ek wil maak is dat baie mense het ʼn onrealistiese verwagting van die ander geslag. Dikwels wanneer ʼn persoon na ʼn lewensmaat soek, maar ook in huwelike sien ek dit dikwels, dat twee mense totaal verby mekaar leef en kommunikeer aangesien hulle verwagtinge (waardes) oor die hoe die ander geslag moet wees en optree myle van mekaar (en die werklikheid)  verwyder is.

  • Verhoudings – In aansluiting by bogenoemde punt, het mense (en ek praat nie net van jong mense nie) dikwels ʼn totaal onrealistiese verwagting of prentjie van wat ʼn verhouding behels en vra. Hierdie totaal onrealistiese verwagtinge kan ʼn onkruid wees wat die lewe uit jou verhouding suig totdat daar niks oor is nie. Dít lei  dikwels tot konflik, bakleiery en op die ou einde tot vooropgestelde idees of waardes in veralgemenings soos: “Alle mans is net onbeskof en selfbehepte buffels.”

  • Gesin – So ook het mense dikwels glad nie ʼn idee wat dit kos om ʼn kind te kry en groot te maak nie. En met “kos” bedoel ek nie geld nie – of jou tienerseun wat jou kosbegroting eendag totaal gaan ruïneer nie – maar wat die opoffering en prys van ouerskap is. Om ʼn kind te kry verander jou lewe onherroeplik. Kry die romantiese prentjie van die dogtertjie met blonde haartjies in ʼn pienk rokkie wat jy soos ʼn klein puppy kan saamsleep en oral mee spog baie vinnig uit jou gedagtes.

  • Geld – O, die I-generasie met hul idee dat hul by ʼn werk gaan instap en onmiddellik pappie se salaris gaan huis toe neem, want “hulle verdien dit mos,” kom sommer dadelik in my gedagtes op. Maar oor die algemeen het mense baie onrealistiese verwagtinge oor geld. En daarom raak baie mense vasgevang in die wêreldsisteem van skuld, onmiddellike gratifikasie en “dobbel”. Met ʼn bietjie kennis kan jy jou lewe omkeer en wegbeweeg van hopeloosheid, ʼn alewige wens dat jy die lotto gaan wen of ʼn lewenslange slaaf van die skuldspiraal bly.

  • Werk – Ons almal is mos opsoek na daai sogenaamde (laat ek byvoeg, pie in the sky) droomwerk. Die realiteit is dat jy heelwaarskynlik, selfs in jou droomwerk, 90% van jou werk blote roetine en oninteressant gaan wees en net 10% ware satisfaksie beleef. Daarmee sê ek glad nie ons moet nie ons passies najaag en doen wat ons van hou en mee goed is nie. Dit bly steeds die beste doelwit om na te mik. Vervulling in jou werk is moontlik, maar dikwels kyk of fokus mense, selfs in hul sogenaamde droomwerk, só na en op die probleme, uitdagings  of mense wat dit dalk moeilik maak, dat hulle geen vervulling en geluk ervaar nie. Kry die onrealistiese verwagtinge van ʼn Utopia in jou werksplek uit jou gedagtes en staar die werklikheid in die gesig.

  • Sukses – Om sukses te definieer is uiters moeilik. Maar baie mense het onrealistiese verwagtinge oor sukses. Of die ander kant - die onrealistiese verwagting dat sukses hulle nie beskore is nie. Mense wat geskrewe doelwitte het en prakties en aktief daarna toe werk om dit te bereik, behaal deurgaans sukses. Baie drome sneuwel omdat onrealistiese verwagtinge oor sukses of die pad na sukses in onkunde gedompel is en jou van ʼn gelukkige en vervulde lewe weerhou.  

  • Roetine – Roetine is een van die grootste diewe van ons geluk in hierdie twintigste eeu. Mense se onrealistiese verwagting dat die lewe “net moet gebeur,” is ʼn groot onkruid. Die lewe gebeur nie net nie. ʼn Mens moet dit laat gebeur. Maar die gemaksones van elke dag se groef kan ʼn doring wees wat jou baie seer steek. Trek daai onrealistiese verwagting dat die lewe maar net vanself moet gebeur en alles in plek val en voorsien, baie vinnig uit!


  • Vrees

Ek staan verstom oor hoe baie mense in vrees leef. Vrees oor geld, werksekuriteit, politieke stabiliteit (omdat hulle te veel nuus lees), verhoudings, hulle kinders en die se prestasies, sekuriteit, ongelukke en nog tien duisend ander goed. Napoleon Hill praat van die sewe dodelike vrese wat mense se lewens soos onkruid oorrompel en hulle weerhou van sukses en geluk. Uit vrees begin ons dikwels nie iets nie. Uit vrees sit ons eerder in ons huise. Uit vrees sê ons ja en amen vir alles – die baas wat onregverdige eise stel, die dominee of pastoor wat jou met godsdiens probeer beheer en jou vryheid steel, die politikus wat jou stem met leë beloftes wil  werf. Vrees is dodelike onkruid, rankplant en doring. Vrouens wat uit vrees in ʼn verhouding wil wees of bly. Mans wat uit vrees onreg toelaat. Vrees om nié ʼn pensioen of mediese fonds te hê nie. Kinders wat uit vrees in marionette verander word. Vrees dat jou kind gaan druip. Vrees dat jy nie jou huis se paaiement gaan kan betaal nie. Lidmate wat uit vrees alles in hulself versmoor en ander wat wegbreek en God kwalik neem oor mensgemaakte reëls en dogmas. Werknemers wat soos slawe in die korporatiewe wêreld maar die katshoue vat uit vrees vir hul werk en inkomste. Verbruikers wat uit vrees miljoene rande se produkte koop. Pasiënte wat uit vrees in hopeloosheid daagliks hande vol pille sluk terwyl die industrialiste met breë glimlagte hul groeiende bankbalans dophou. Vrees het die grootste beheerder van die moderne wêreld geword. ʼn Onkruid, wat jy dalk deeglik moet bekyk.

  • Skuldgevoelens

As ek aan my eie lewe dink, dan sien ek ʼn geskiedenis van leweloosheid omdat ek vir baie jare gekniehalter is deur hierdie mensgemaakte beheerstelsel. Skuldgevoelens. Hoeveel keer het ek gekies om maar nie te leef nie, uit skuldgevoelens. Hoeveel keer het ek gaan “bely” en vir dae lank my lewe op hold gesit omdat ek skuldig gevoel het oor iets wat ek gedoen, gesê of nie gedoen of sê het nie. Skuldgevoelens oor ʼn egskeiding van ʼn huwelik wat nooit moes gewees het nie en nie gewerk het nie. Skuldgevoelens in die werk. Skuldgevoelens oor seks. Die lys is baie lank. As daar nou een ding in ons lewens is wat ons maar kan verban, is dit skuldgevoelens. In die godsdienstige instellings (kerke ingesluit), is dit mos die mees algemene wapen om mense met vrees te beheer. “Jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie, want dan.....” “Jy moet rooi dra en nie blou nie, anders....” Omdat skuldgevoelens so ʼn kragtige reaksie in ons emosies tot gevolg het, is dit een van die groot redes hoekom dit werk om mense te beheer en ons lam te lê. Volgende keer as jy weer wil skuldig voel, sit daai emosies eenkant en bekyk dit van ʼn afstand af met perspektief en vra jouself wat lê aan die wortel van hierdie ding, en dan raak jy van dié onkruid ontslae.

  • Pretensies

Ons ouens in ons middeljare verstaan hierdie een. Tog sien ek dit maar net soveel, maar op ander wyses, by ons jongmense. My ouma se mees algemene stelling was altyd: “Wat sal die mense hiervan sê,” of “Wat sal die mense van ons dink.” Die ander kant is mos daai koppies wat vir tien jaar stof vergader in die “show case” omdat ons dit nie mag gebruik behalwe wanneer “spesiale” mense kom kuier nie. Of alles wat in perfeksie moet wees vir ander mense. Baie mense leef egter daagliks só. Mense leef met voorgee teenoor die dominee of pastoor (asof dié nou enigsins anders as jy is of jou in God se slegte boekies kan laat beland), die skoolhoof, die baas by die werk en helaas ook tenoor hul vriende en veral familie. Ons probeer so voorgee met ons klere, die karre wat ons ry en ons kinders se prestasies. Asof dit jou waarde gaan bepaal. En ongelukkig doen dit vir so baie mense. Geen wonder die meeste mense is wrakke as gevolg van stres nie. As jy nou van een groot stuk doringtak in jou lewe ontslae wil raak wat die lewe uit jou uitsuig en jou weerhou om werklik te lewe, raak ontslae van pretensie en wees wie jy is. En leer wie jy IN Christus is, dit bepaal immers jou waarde en jou sukses. As iemand anders nie hou van wie jy is nie, is dit daai persoon se probleem. Hoekom jouself ʼn goeie lewe ontneem omdat jy oor ander mense en hul niksseggende opinies gepla is.


  • Onkunde

Die laaste groot onkruid wat mense se gedagtes gevange hou en hul lewe versuur, is onkunde. Hoewel ons in die eeu leef waarin kennis en inligting vrylik beskikbaar is, waarin jy jouself met gemak oor enige onderwerp onder die son kan verryk, is dit seker die mees oningeligte geslag ooit. Toegepaste kennis kan jou baie ver bring. Maar die gejaag van die moderne lewe, roetine, vermaak (ja te veel soetsappige stories op TV), sosiale media en gemak, het tot gevolg dat die meeste mense se breine met ʼn spul onkruid oorbegroei is, soveel so dat daar weinig vrugbare plante meer groei. Dit is hoekom mense nie meer kan onderskei nie. Hoekom hulle ʼn mogge troffe leefstyl volg en maar net hoop vir die beste. ʼn Lewenshouding wat nêrens heen op pad is nie, dalk net ʼn sinnelose en lewelose aftrede en dood uiteindelik. Meeste mense se waardes is deesdae geskoei op dit wat hul gevoer word op TV, flieks, musiek en sosiale media. Onkreatiewe en verbeeldinglose lewens en verhoudings. O en ons grootste verskoning vir onkunde is tyd. Niemand het kamstig meer tyd vir niks nie. En dan praat ek nie van ongeskoolde mense wat, helaas selfs in hierdie eeu nog voorkom nie, ek praat van mense wat hooggeleerd is. Kenners op hul gebied, maar verder onkundig oor die lewe. Lewe, sukses en geluk,  is moontlik wanneer jy die bedding van jou gedagtes skoonmaak van onkruid en dit plant met vrugbare, kleurryke en pragtige plantegroei.   



Maandag 01 Februarie 2016

Dooie takke wat jou keer om te lewe


Dooie takke is ʼn interessante fenomeen.

ʼn Tuin, of die natuur, en hier verwys ek spesifiek na die flora, word gekenmerk deur die wisselwerking tussen lewe en dood. “Geboorte en sterfte” as jy wil.

Dit gaan saam met seisoene, ʼn ander onderwerp wat ek nie hier wil aanraak nie. Daar is ʼn tyd wanneer die natuur in volle blom is, nuwe blare word gevorm en takke uitgestoot. Dan is daar ʼn ander tyd wanneer alles begin verkleur en blare sterf en afval. Dan kry ons weer ʼn tyd waar die natuur rus. In die grootste deel van ons land is alles vaal en dood voordat daar weer nuwe lewe begin uitspruit in bloeisels en nuwe blomme, blare en takke wat uitkom, groen en vol lewe.

So in ʼn natuurlike proses sien ons dan dat daar ʼn tyd kom wanneer die takke begin doodgaan en, indien dit nie gesnoei word nie, wel later afval om plek te maak vir nuwe lewe.

Dink daaroor, as ons dit deurtrek na ons lewens toe, indien jy nie die snoei proses deurgaan nie, sal die dooie hout wel met tyd in jou lewe wegval, dikwels in ʼn baie moeiliker en pynliker pad as wat die snoeiery gebeur en vinnig oor en verby is.

Nóg ʼn interessante aspek van dooie hout is dat nie alles noodwendig vir ons verlore is nie, maar so is alles ook nie net goed nie. Die regte hout kan opgetel en gebruik word vir energie. Kos of hitte kan daarmee geproduseer word. Dooie blare en gras kan gebruik word om kompos te maak wat weer help om beter lewe voor te bring.

Alle dooie goed is egter nie noodwendig bruikbaar nie. Ons kry byvoorbeeld sekere bome wat uiters giftig is vir menslike gebruik. Of hout wat so vinnig wegbrand dit is van geen waarde nie.

In die vorige blog het ek geskryf oor die feit dat die dooie goed in ons lewens ons verhinder om werklik ʼn vrugbare, sinvolle en gelukkige lewe te lei. In die volgende paar weke gaan ons kyk na verskillende dooie takke wat ons lewens op ʼn emosionele en verstandelike vlak negatief beïnvloed.

Baie mense leef in die verlede. Sommige goed uit die verlede waaraan hul vasklou is positief en sommige is negatief. Verlede week het ons by die positiewes stilgestaan en in dié blog kyk ons na van die negatiewes.

1. Mense. Niemand leef op ʼn eiland nie, al is jy hoe ʼn introvert wat ʼn kluisenaarsbestaan voer. Daar bestaan nie iets soos ʼn “self-made man” nie en daar is ook niemand wat kan beweer dat hy of sy immuun is teen ander mense nie. Die samelewing bestaan uit mense en ons almal het gesinne, families, vriende en kollegas. Êrens is jy deel van ʼn groep, of dit nou mense is wat saam in jou gym is, lidmate in ʼn kerk, die motorfiets- of naaldwerkklub of waar ook al. Selfs al gaan jy net winkel toe is jy in daai tyd deel van ʼn groep wat genoem word kliënte en kruis jou pad met ander mense. Hier is beslis nie genoeg plek en dit is ook nie die forum om in detail oor ons verhouding met mense in elke groep in te gaan nie. Ek wil net vir ʼn oomblik stilstaan by die feit dat 90% van alle mense meestal ander mense verantwoordelik hou vir hul ellende, ongelukkigheid en verbittering. In die meeste areas is mense direk of indirek betrokke en kan mense voorgehou word as die rede vir jou mislukkings, ongeluk of ongesteldheid. Die mees waardevolste les wat ek in die lewe geleer het, maar dis ʼn bitter harde les, is dat die bal by my stop. Ekself is verantwoordelik vir my lewe en dit wat met my gebeur. Ander mense gaan altyd op een of ander manier op jou tone trap. Mense verskil, persoonlikhede verskil, waardesisteme verskil en kulture verskil. Jy kan maar weet dit sal gebeur. Daarom is dit belangrik om te vergewe, die situasie eerlik in oënskou te neem in plaas daarvan om in emosionele reaksies te gaan en aan te gaan met jou lewe. Dit help nie om in negatiewe emosies oor ander mense vas te sit vir die res van jou lewe soos wat baie mense doen en dan verbitterd oud raak nie. Of dit nou ou familie vetes is, ʼn eks man of vrou, ʼn kollega, vriend of selfs net die ou in sy Fortuner vanoggend wat jou parkeerplek gesteel het. Maak jou los van die negatiewe goed wat gebeur het met mense uit die verlede. Dit beteken nie jy moet noodwendig nou met daai mense iets te doen hê nie. Dit beteken jy maak jouself los en beweeg aan. Kry daai dooie hout uit jou verstand, emosies en tong uit.

2. Werk. Vir sommige mense is gebeure uit die verlede in die werksplek, of selfs die feit dat hulle nie bevordering gekry het of dalk ʼn bepaalde werk gekry het nie, ʼn groot ou dooie tak in hul lewens wat hul sig na die son en lewe versper. Werksplekke, maak nie saak waar dit is nie, is altyd ʼn teelaarde vir konflik, ongeluk en negatiewe emosies. In retrospek het ekself die afgelope tyd besef dat ʼn vorige werkplek, waar ek in my siel in ongelukkig was en elke oomblik daarvan verpes het, eintlik die teelaarde was vir baie positiewe dinge in my lewe wat nodig is. ʼn Komposhoop is nou nie ʼn plek om jou ontspannende middag damestee aan te bied nie, maar sonder die kompos mag jy dalk nie so ʼn welige groen grasperk en mooi blombeddings hê sodat die dames hulle in kan verlustig in die heerlike funksie nie. Raak ontslae van dooie hout uit jou verlede en hou op om vas te sit in goed wat was en gebeur het en goed wat jy gehoop het kon wees.

3. Gesondheid. ʼn Mens se gesondheid is een van die grootste gawes in die lewe. Soms gebeur daar goed wat jou gesondheid nadelig beïnvloed wat nie die direkte oorsaak van jou eie nalatigheid was nie soos ʼn ongeluk of lugbesoedeling. Maar die realiteit is dat baie mense nooit na hul liggame omsien en dit oppas met hul diëte, oefenprogramme, ontspanning (en stres-vermindering) en ʼn gesonde gewoontes asook leef- en denkstyl nie. Wanneer die gevolge op verskeie maniere na vore kom, word baie mense negatief en verbitterd of raak dit net ʼn stryd om oorlewing. Die ongelooflike van ons liggame is egter dat dit nooit té laat is om te begin nie. Soms is die skade so groot en die lewensjare te ver gevorderd dat daar nooit volkome herstel sal wees nie. Maar ʼn mens kan ʼn gesonde liggaam tot op ʼn hoë ouderdom geniet met die regte aanpassings in siel, liggaam en gees. Raak dus ontslae van die dooie hout van skuldgevoelens, verwyte, verbittering, slegte gewoontes en emosionele reaksies en skuif jou fokus reg.

Soos wat ons die dooie hout uitsny en meer positief begin leef en die son meer op ons lewensblare skyn, sal die vrug van geluk en vrede vir jou ʼn baie meer positiewe, produktiewe en vrugbare lewe laat geniet.

Begin vandag en maak jou kop skoon van daai negatiewe dooie hout uit die verlede.