Maandag 18 Januarie 2016

Snoei bring lewe


Nou die ander dag, vóór die groot hael, vaar ek die tuin in met die snoeiskêre. Ek doen so nou en dan so iets. Ek weet nie wat dit in my konstitusie is nie, maar dit maak nie saak of dit in my eie lewe is, my admin, my e-posse of by die werk nie, maar ek moet maar net alewig skoonmaak, uitsorteer en van dooie hout ontslae raak.

So vaar ek die tuin binne met dié instrumente, aanvanklik net met die idee om ʼn paar dooie takke en boomvaringblare wat ek raakgesien het, af te sny. Maar dit word ʼn hele operasie waarin oopgesny en van alles wat dood en uit plek is, ontslae geraak word.

ʼn Groot snoeiskêr vir die groot takke en blare en die kleintjie vir die fyner werk.

En iets soos ʼn wonder ontvou hier voor my oë. Dit is asof daar weer lewe in die plant en in die bedding kom. Ander struik en blom wat verswelg is, kom weer na vore. Dis skoonheid van die plante steek weer kop uit nadat ál die dooie goed eers weggesny en uitgehaal is.

In die volgende paar blogs, hier in hierdie afdeling en ook in van die ander afdelings, wil ek skryf oor die snoei van die dooie takke in ons lewens in die verskillende areas of fasette en sal ek verskillende dele hiervan aanraak.

Ek dink hier in die begin van die jaar is dit nogal van toepassing.

In die natuurlike werk dit so. Sommige mense hou van ʼn digte boskaas in hul tuin en los alles om net te wild groei. Maar gaan kyk na die tuine wat regtig jou aandag trek. Wat die pryse wen en in die tydskrifte pronk. Dit is dié tuine waar alles netjies versorg en afgerond is.
Wanneer ons in die bos ingaan, dan verwag ons die woeste, die onversorgde, maar wanneer jy in ʼn tuin loop, moet dit versorg wees.

So ook as dit by boerdery kom. Soos die prentjie bo. ʼn Onbesnoeide wingerd lyk totaal onversorg. Jy dink by jouself hier is ʼn sleg boer. Hier is iemand wat nie omgee vir sy boerdery, sy sak en homself nie.

So ook met mense. Soms trek die wildes jou aan om een of ander rede, maar wie is die mense wat werklik die wêreld positief verander en bestuur? Sal jy werklik jou vertroue stel in iemand wat totaal onversorgd is in sy liggaam of siel?

Nou my slim landboukind, die boer, verduidelik vir my dat die snoei van bome en plante nodig is sodat daar meer sonskyn op die blare kan kom wat die vrugte beter laat groei.

Dink aan die groot werk in die winter voor die lente kom, dan word die vrugtebome, wingerde en rose gesnoei. Àl die dooie takke en lote wat uit plek is word weggesny. Sodat daar minder takke en lote is. Sodoende groei die plant beter, kry meer son en lewer beter vrug.

Dooie goed veroorsaak gebrekkige groei, swak vrugte en swak oeste. En maak dit boonop moeilik om by die ou patetiese vruggies uit te kom.

Trek dit deur na ons lewens op ʼn sielsdimensie vlak. Hoe meer dooie hout jy in jou emosies en verstand ronddra, hoe moeiliker kry jy son, hoe slegter lyk die oes van jou lewe. Hoe moeiliker is dit vir ander mense om die ware jy raak te sien en te waardeer. Hoe moeiliker vir jou om jou bydrae te lewer daar waar dit nodig is. Om jou beste vrug na vore te kan laat kom.

Daarom is dit nodig om van die dooie goed ontslae te raak. Meer is nie altyd beter nie, veral as dit kom by ons funksionering.

Wat is die goed wat ons verhinder om goed te funksioneer?

Kom ons begin by een groot dooie tak, die verlede.

Baie mense leef in die verlede, en hoe ouer hulle word, hoe beter raak die goeie ou verlede waarin hulle leef.

Sommige goed uit die verlede waaraan hul vasklou is positief en sommige is negatief. Vandag gaan ek by die positiewes stilstaan en volgende week na die negatiewes kyk.
Ja, dis nie altyd die slegte goed wat mense verhinder om aan te gaan met die lewe nie. Dit is dikwels die goeie dinge wat gebeur het. Maar ons kan nie net leef in die goeie goed van die verlede en nie die goeie goed wat vandag met jou gebeur, rondom jou is en die goeie mense wat nou in jou lewe is, nie raaksien nie.

Soms wil mense beweer daar is niks goed in hul huidige situasie nie. Dít dikwels omdat hulle só in die “goeie ou verlede” leef, dat hulle ophou bestaan het. Maar dit is doodeenvoudig nie die waarheid nie. Dit is dikwels ál hierdie dooie takke wat verhinder dat hulle die son sien en toelaat om op hul blare te skyn sodat die vruggie kan ontkiem en sappig word.

Kom ek noem enkele van hierdie goeie ou verledes:

1. Prestasie. Dit is iemand wat uitmuntend, veral in sport presteer het toe dié persoon jonk was. Maar kompeterende sport het ongelukkig ʼn vervaldatum. Nee regstelling, kompeterende sport op sekere vlakke of in sekere kodes het wel so ʼn vervaldatum. Maar mense tot in hul negentigs presteer nog in sport en stel rekords op. Een van die dinge wat my die meeste inspireer, is wanneer iemand op ʼn hoë ouderdom nie toelaat dat die lewe ophou nie, maar steeds alles insit om ʼn rekord op te stel. Soos Arthur Webb, ʼn ultramarathon-atleet op 72. Of Olga Kotelko wat op 94 17 baan en veld rekords in haar ouderdomsgroep hou en steeds lid van die VSA se Meesterspan is. Nader tuis is daar Japie Malan wat op 92 in 2012 op ʼn tandem-fiets en in 2010 op sy eie op 90-jarige ouderdom, die oudste deelnemer aan die Argus-fietswedren is. Wally Hayward het ʼn Comrades-ultramarathon loopbaan van 60 jaar gehad en is die oudste persoon nóg om dié wedloop te voltooi. Hy het in 1989 op die ouderdom van 80 jaar die Comrades net in tyd voltooi. Hy is dood in die ouderdom van 97 jaar. Om dus te leef in die goeie herinneringe aan die prestasies in die verlede en nie die kanse van vandag te gebruik nie, of jy nou 40, 50 of 80 is, is om toe te laat dat dooie hout in jou pad staan om die sonskyn en lewe te geniet.

2. Mense. Die lewe is nie altyd regverdig nie en laat ons soms deur ernstige verlies gaan. Die dood is egter deel van die lewe op aarde. Hoekom dit gebeur dat iemand se lewensmaat op ʼn jong ouderdom sterf, of ʼn kind of ʼn ouer of familielid wat jou emosionele steunpilaar was of ʼn goeie vriend of vriendin of selfs ʼn werkgewer, kan ons nie verklaar nie. Ons het nie die antwoorde nie. Punt. Die lewe hou egter nie op wanneer iemand sterf nie, hoe swaar en moeilik dit ook al is. Dit is ook nie altyd dood nie. ʼn Egskeiding of siekte kan dalk iemand van jou af wegneem. Ongelukkig hou sommige mense op om te bestaan en bly vasklou aan die persoon. Weier om aan te gaan met die lewe. Soms is dit uit emosionele afhanklikheid aan die persoon, soms is dit net uit die groot gemis van iemand wat nie meer daar is om mee te gesels en goed saam te doen nie. Of soms kan dit wees omdat mense hul hele bestaan om ander mense laat wentel. Die herinnering aan die persoon is positief. Dit is kosbaar en iets wat jy altyd sal bly koester. Dit is egter belangrik om afskeid te neem, te rou en dan te snoei, sodat die son op jou blare kan skyn in ʼn nuwe seisoen en weer nuwe vrug in jou lewe na vore laat kom.

3. Jeug. Byna soos met sport, maar in ʼn wyer sin, klou baie mense vas aan hul jeug of jong dae of doodeenvoudig aan die persepsie van jeugdigheid. Die energie en lewenslus en ál die wonderlike dinge wat in hul jong dae, studente tye en jong getroude lewe gebeur het. In ons samelewing wat al hoe meer jonkheid as ʼn deug of waarde wil voorhou, maak dit nóg moeiliker. Elke plooi, elke seer spier, elke bietjie meer inspanning om dinge te doen wat vroeër maklik was, word ʼn swakheid of ʼn krisis. Die samelewing het ʼn geneigdheid om mense te laat glo dat as jy nog nie presteer het of skatryk is teen 40 nie, jou lewe verby is. Van daar af is dit net afdraande pad. In stede daarvan dat mense die deugde en goeie dinge sien wat wel met ouderdom saamkom. Dit is so dat daar deesdae meer mense is wat op ʼn jong ouderdom presteer en sukses behaal. Maar die meerderheid raak maar net weg in die massas. Diesulkes is dus die uitsondering en nie die reël nie. Wat egter vergeet word is, statisties, dat die grootste aantal mense sukses, in menige veld, eers bó die ouderdom van 50 behaal. Daar is talle voorbeelde van hoog suksesvolle mense wat nie opgehou bestaan het omdat die wêreld sisteem sê jou lewe hou op 65 op nie. Of wat lewensvoos is op dié ouderdom omdat hul maar net saamgesleep is in die (korporatiewe) sisteem nie. Dis juis dié mense wat dikwels terughunker na die jeugdigheid en wens hulle kon alles oorhê. Ek sê nie mens moet toegee aan die ouderdom en nou skielik oud wees voor jou tyd nie. Inteendeel. Hou egter op om te leef vir wat was en nie was nie. Hou op droom oor verlore kanse. Snoei daai ou hout, weereens of jy nou deur middeljare krisis gaan en of jy al 70 is, maak plek vir die son op jou blare en gryp die geleenthede aan wat nou op jou pad is!

Die lewe is elke dag nuut. Elke seisoen en elke nuwe jaar is simbolies vir ons dat daar altyd nuwe lewe voortspruit. Omstandighede lyk nie altyd soos jy dit dalk graag wil hê nie, maar dit kan jou nie keer om te lewe nie. Maar dooie takke, al was hulle baie vrugbaar op hul tyd, kan nie weer uitspruit en vrug lewer nie. Snoei daai ou dooie takke weg en sien die geleenthede raak om nou, in die nou, met bewustheid te leef.

Maandag 11 Januarie 2016

Sit wense oor in aksie


Ek onthou as kind het ons baie Sondae middae of met spesiale geleenthede by my ouma en oupa geëet en later jare, ná my oupa se dood, het ouma dié tradisie voortgesit. ʼn Dis wat altyd op die spyskaart was, is gebraaide hoender. Die tradisie in die familie was dat die een wat die wensbeentjie (die hoender se sleutelbeen) kry, dit daar en dan moes gebruik. Die persoon langs jou aan tafel moes die een kant vat en jy vat die ander kant en dan trek jy die beentjie totdat dit breek. Die een wat die groter gedeelte in sy of haar hand het nadat dit gebreek het maak (natuurlik) ʼn onuitgesproke wens. Iets goed wat jy hoop met jou sal gebeur of wat jy sal kry of iemand wat jy sal ontmoet. Volgens Etimoloë kom die gesegde “get a lucky break” van die gebruik af.

So is daar ook oral in die wêreld wensdamme (wishing pond). Nie soseer in Suid-Afrika nie hoewel ek soms, veral by deftige hotelle waar daar een of ander poel is, sien dat mense geld ingooi en natuurlik met ʼn gepaardgaande wens. Dit is veral ʼn Europese gebruik. Ek glo nie almal glo noodwendig in die mistiese gebruik dat hul wens sal waar word nie, maar tog klou hulle vas aan een of ander bygeloof dat iets goed met hulle sal gebeur.

Só is daar verskeie sulke tipe bygelowe en gebruike.

Nog iets waarmee ek grootgeword het in die familie is die sêding: “Eendag as my skip inkom.” Let op die woord “as”, nie “wanneer” nie. Of die meer moderne weergawe is: ”As ek die lotto wen....”

Ons het verskillende uitdrukkings. Ons sal byvoorbeeld sê iets is wensdenkery. Of in Engels wishful thinking. Die kinderlike droom dat ons net die lantern kan vryf en verskyn ʼn Genie wat al ons wense sal waarmaak.

ʼn Wens sê die verklarende woordeboeke is iets waarna ʼn mens verlang of iets wat jy begeer. Dus iets wat jy graag wil hê oor jou pad moet kom of in jou lewe moet verskyn sonder enige daadwerklike poging of werk van jou kant af. Iets soos die spreekwoordelike skip vol geld wat net misterieus jou lewe moet binnevaar sonder dat jy iets gedoen het daarvoor. Of die lotto wen, al is jou kans statisties beter om deur die weerlig raakgeslaan te word of twee keer beter dat ʼn donkie jou sal byt, as wat dit is om dié ou gelukkie te tref. Want gelukkie tref is dit inderdaad.  

Laas week het ek geskryf oor voornemens (so in die begin van die jaar) en dat ons dit moet omskakel in besluite (Die wonder van nuwe begin).

ʼn Voorneme, begeerte en wens is amper op dieselfde vlak. Dit is iets wat ons bitter graag wil hê, of bereik of laat gebeur, maar sonder dat ons dit werklik in ons diepste binneste glo dat dit met my kan gebeur of my beskore is of sonder dat ons iets doen om dit te laat gebeur.

Ons almal wens baie dinge. “Ek wens ek kan ʼn (of die regte) man of vrou kry,” “Ek wens ek het ander werk gehad,” “Ek wens ek het geld gehad vir dit of dat,” “Ek wens ek kan op vakansie gaan,” “Ek wens my man wil my beter behandel,” “Ek wens my kinders wil kerk toe gaan,” “Ek wens ek kon ʼn besigheid begin,” en seker die ergste van almal, “Ek wens ek kan aftree.”

“Ek wens, ek wens, ek wens.” En so wens almal hul lewe verby tot in hul aftrede in ... en dan wens hulle weer vir nuwe goed, dat die kleinkinders sal kom kuier, dat hul pensioen beter was, dat die lewe nie so onregverdig was nie, ens. ens. ens.

Die waarheid is dat ʼn gewensery nog niemand van ons iets in die sak gebring het nie. Jy kan wens en voornemens koester tot jy die dag blou in jou gesig is, dit gaan niks aan die saak verander nie.

Die lewe gebeur vir die wat iets insit. Dit word bewaarheid vir hulle wat die regte kopskuiwe maak, die regte vrae vra, die regte dinge gaan soek en gaan haal. Ek het, sonder dat ek nog enige kennis gehad het van hoe die wêreld werk, in reaksie begin sê: “Dalk moet ons uitswem en die skip gaan haal.”

“Vra en vir jou sal gegee word, soek en jy sal vind, klop en vir jou sal oopgemaak word,” leer Jesus ons. Wat is die goue reël wat ons hier raaklees?

Dat niks sonder moeite of pogings van ons kant af kom nie. Daar is aksie betrokke.
Ek weet sommige mense is uitgelewer aan sekere teologiese of ideologiese leerstellinge dat jou paadjie nou maar uitgemerk is en dat jy maar net ʼn marionet aan ʼn toutjie is wat moet vat wat die lewe vir jou uitdeel. Maar ek kan nie daaraan sluk nie. Ek sien só ʼn denkwyse en lewensbeskouing nêrens in die Bybel nie. En as ek na die geskiedenis van die mensdom kyk, nog minder daar. Dit laat jou ook in baie ernstige krisisse met jou Godsbeeld vasdraai as jy só leef.

Dis ʼn lewe van mogge troffe. Ek karring maar elke dag, jaar in en jaar uit, aan op dieselfde ou manier, met dieselfde gewoontes, idees, op dieselfde plek in my lewe in die wensdenkery vir ʼn beter uitkoms.

Dit word aan Einstein toegeskryf dat hy volgens dié spreuk geleef het: “Waansin: om dieselfde ding oor en oor te doen, maar ander resultate te verwag.” (Insanity: doing the same thing over and over again and expecting different results.)

Wense val in dié kategorie. Dit gaan jou nêrens bring nie. Dit gaan nie die resultate lewer wat jy soek nie. Dit gaan nie jou vrese besweer nie en dit gaan nie jou lewe positief verander nie. Jy doen daagliks dieselfde dinge, maar wens vir daai gelukskoot, daai lucky break, dat daai skip doer ver uit op die see soos die Vlieënde Hollander misterieus in jou hawe sal invaar, dat daai loterykaartjie se nommers reg sal val.

Sit jou wense om in besluite. Gaan dink vir ʼn slag wat jy glo en hoekom jy dit glo (jou paradigmas en lewensbeskouing). Gaan kyk vir ʼn slag wat is jou waardes waarvolgens jy leef en jou gewoontes waarmee jy dit voed. Gaan vra vir ʼn slag hoekom word my wense nie waar word nie.

Miskien net kan ons 2016 ongelooflik positief eindig omdat wense, besluite geword het, ons besluite in beter gewoontes verander het en ons gewoontes in aksieplanne oorgegaan het wat verbysterende resultate gelewer het en daai “wens” toe in werklikheid omskep het.  

Maandag 04 Januarie 2016

Die wonder van nuwe begin



Te midde van die hitte wat ons almal oor die lente en breedte van Suid-Afrika plat teen die grond druk, voel dit soos ʼn gedruis soos mense oral oor weer begin huis toe vlug, werk toe skarrel, skoolgoed koop of net weer opkyk en 2016 met nuwe moed in die gesig staar.

Die genade van lewe is dat daar altyd weer ʼn nuwe begin is.

Dit is asof ʼn nuwe begin die mensdom inspireer om asem te skep en die lewenswedloop met nuwe krag aan te pak. Dit is soos wanneer jy besig is met ʼn wedloop of langpad oefen. Daar kom sulke momente wat dinge vaag raak. Of jy perspektief verloor en tred met wat om jou aangaan. Kom ʼn merker of waterpunt, skep jy asem, kry weer moed en energie en ʼn nuwe lus in jou tred.

Só is die geboorte van ʼn baba in die familie ʼn vreugde oomblik. Of wanneer die trouklokke lui. In teenstelling met ʼn begrafnis, ʼn siekbed of slegte tyding.

Soms is sekere eindes ook vreugde momente wat nuwe energie bring. Soos die eindeksamen aan die einde van die jaar. Wanneer die leerder slaag beteken dit vordering, ʼn groter en nuwe uitdaging. 

Wanneer die matriek eindeksamen afgehandel word, is daar vreugde, want ʼn hele nuwe lewensfase begin. So ook met ʼn graad of diploma wat gevang word.

So kan ons baie nuwe momente van positiewe eindes en beginne deur ons lewens en in ons werk beleef. Momente van vreugde, hartseer, einde en begin. Elkeen met sy eie unieke emosionele dinamika.

Die begin van ʼn nuwe jaar hou vir die meeste mense die dinamika van nuwe energie in. Weer ʼn volgende stappie op die lewenspad met hoop en verwagting.

Ander begin dalk met huiwering en vrees.

Die belangrikste is om hierdie dinamika te benut, hetsy jy ʼn vae hoop het of ʼn vreesagtigheid.
Baie mense het ʼn nuwejaarsvoorneme.

Soos iemand egter tereg gesê het, die probleem met ʼn voorneme is dat dit presies is wat dit is. Net ʼn voorneme. Iets wat jy dalk dink om te doen, maar nie eintlik van plan is om deur te voer nie.

Wanneer jy egter weet wie jy is (met ander woorde jou beginsels, waardes en geloof waarop jy jou lewe bou), jou doelwitte neergeskryf is (met bepaalde datum en meetbare punte) en jy gefokus is om beheer te neem oor jou lewe in stede daarvan dat die lewe beheer neem oor jou, het jy nie voornemens nodig nie. Dan neem jy net die volgende stappie in jou lewensreis in die nuwe jaar in en leef en werk doelgerig vorentoe.

Ek het op ou jaar weer bietjie introspeksie gaan doen. Die jaar gaan evalueer op grond van die agt lewensterreine, my waardes en beginsels en my doelwitte. Hier en daar is ek besig met skaafwerk.
Maar die dinamika en energie van die nuwe jaar, help om my gefokus op my kort-en langtermyn doelwitte, 2016 aan te pak en my uitkoms te bepaal wat ek aan die einde van dié jaar wil sien en bereik.

Jy kán besluit waar jy wil wees, jy hoef nie te wonder waar jy gaan wees nie!


My stukkie goud aan jou is, vóór jy weer rotte begin jaag in dié jaar, gebruik die energie in die wonder van nuwe begin en bepaal jou bestemming!!!

  • Om meer uit te vind oor beskikbare terapie of 'n afspraak te maak, gaan na WilcoRoberts.co.za.