Ek
onthou as kind het ons baie Sondae middae of met spesiale geleenthede by my
ouma en oupa geëet en later jare, ná my oupa se dood, het ouma dié tradisie
voortgesit. ʼn Dis wat altyd op die spyskaart was, is gebraaide hoender. Die
tradisie in die familie was dat die een wat die wensbeentjie (die hoender se
sleutelbeen) kry, dit daar en dan moes gebruik. Die persoon langs jou aan tafel
moes die een kant vat en jy vat die ander kant en dan trek jy die beentjie
totdat dit breek. Die een wat die groter gedeelte in sy of haar hand het nadat
dit gebreek het maak (natuurlik) ʼn onuitgesproke wens. Iets goed wat jy hoop
met jou sal gebeur of wat jy sal kry of iemand wat jy sal ontmoet. Volgens
Etimoloë kom die gesegde “get a lucky
break” van die gebruik af.
So is
daar ook oral in die wêreld wensdamme (wishing
pond). Nie soseer in Suid-Afrika nie hoewel ek soms, veral by deftige
hotelle waar daar een of ander poel is, sien dat mense geld ingooi en natuurlik
met ʼn gepaardgaande wens. Dit is veral ʼn Europese gebruik. Ek glo nie almal glo
noodwendig in die mistiese gebruik dat hul wens sal waar word nie, maar tog
klou hulle vas aan een of ander bygeloof dat iets goed met hulle sal gebeur.
Só is
daar verskeie sulke tipe bygelowe en gebruike.
Nog iets
waarmee ek grootgeword het in die familie is die sêding: “Eendag as my skip
inkom.” Let op die woord “as”, nie “wanneer” nie. Of die meer moderne weergawe is:
”As ek die lotto wen....”
Ons
het verskillende uitdrukkings. Ons sal byvoorbeeld sê iets is wensdenkery. Of
in Engels wishful thinking. Die kinderlike
droom dat ons net die lantern kan vryf en verskyn ʼn Genie wat al ons wense sal
waarmaak.
ʼn
Wens sê die verklarende woordeboeke is iets waarna ʼn mens verlang of iets wat
jy begeer. Dus iets wat jy graag wil hê oor jou pad moet kom of in jou lewe
moet verskyn sonder enige daadwerklike poging of werk van jou kant af. Iets
soos die spreekwoordelike skip vol geld wat net misterieus jou lewe moet
binnevaar sonder dat jy iets gedoen het daarvoor. Of die lotto wen, al is jou
kans statisties beter om deur die weerlig raakgeslaan te word of twee keer
beter dat ʼn donkie jou sal byt, as wat dit is om dié ou gelukkie te tref. Want
gelukkie tref is dit inderdaad.
Laas
week het ek geskryf oor voornemens (so in die begin van die jaar) en dat ons
dit moet omskakel in besluite (Die wonder van nuwe begin).
ʼn
Voorneme, begeerte en wens is amper op dieselfde vlak. Dit is iets wat ons
bitter graag wil hê, of bereik of laat gebeur, maar sonder dat ons dit werklik
in ons diepste binneste glo dat dit met my kan gebeur of my beskore is of sonder
dat ons iets doen om dit te laat gebeur.
Ons
almal wens baie dinge. “Ek wens ek kan ʼn (of die regte) man of vrou kry,” “Ek
wens ek het ander werk gehad,” “Ek wens ek het geld gehad vir dit of dat,” “Ek
wens ek kan op vakansie gaan,” “Ek wens my man wil my beter behandel,” “Ek wens
my kinders wil kerk toe gaan,” “Ek wens ek kon ʼn besigheid begin,” en seker die
ergste van almal, “Ek wens ek kan aftree.”
“Ek
wens, ek wens, ek wens.” En so wens almal hul lewe verby tot in hul aftrede in ...
en dan wens hulle weer vir nuwe goed, dat die kleinkinders sal kom kuier, dat
hul pensioen beter was, dat die lewe nie so onregverdig was nie, ens. ens. ens.
Die
waarheid is dat ʼn gewensery nog niemand van ons iets in die sak gebring het
nie. Jy kan wens en voornemens koester tot jy die dag blou in jou gesig is, dit
gaan niks aan die saak verander nie.
Die
lewe gebeur vir die wat iets insit. Dit word bewaarheid vir hulle wat die regte
kopskuiwe maak, die regte vrae vra, die regte dinge gaan soek en gaan haal. Ek
het, sonder dat ek nog enige kennis gehad het van hoe die wêreld werk, in
reaksie begin sê: “Dalk moet ons uitswem en die skip gaan haal.”
“Vra
en vir jou sal gegee word, soek en jy sal vind, klop en vir jou sal oopgemaak
word,” leer Jesus ons. Wat is die goue reël wat ons hier raaklees?
Dat
niks sonder moeite of pogings van ons kant af kom nie. Daar is aksie betrokke.
Ek
weet sommige mense is uitgelewer aan sekere teologiese of ideologiese
leerstellinge dat jou paadjie nou maar uitgemerk is en dat jy maar net ʼn marionet
aan ʼn toutjie is wat moet vat wat die lewe vir jou uitdeel. Maar ek kan nie
daaraan sluk nie. Ek sien só ʼn denkwyse en lewensbeskouing nêrens in die Bybel
nie. En as ek na die geskiedenis van die mensdom kyk, nog minder daar. Dit laat
jou ook in baie ernstige krisisse met jou Godsbeeld vasdraai as jy só leef.
Dis ʼn
lewe van mogge troffe. Ek karring maar elke dag, jaar in en jaar uit, aan op
dieselfde ou manier, met dieselfde gewoontes, idees, op dieselfde plek in my
lewe in die wensdenkery vir ʼn beter uitkoms.
Dit
word aan Einstein toegeskryf dat hy volgens dié spreuk geleef het: “Waansin: om
dieselfde ding oor en oor te doen, maar ander resultate te verwag.” (Insanity: doing the same thing over and over
again and expecting different results.)
Wense
val in dié kategorie. Dit gaan jou nêrens bring nie. Dit gaan nie die resultate
lewer wat jy soek nie. Dit gaan nie jou vrese besweer nie en dit gaan nie jou
lewe positief verander nie. Jy doen daagliks dieselfde dinge, maar wens vir
daai gelukskoot, daai lucky break, dat
daai skip doer ver uit op die see soos die Vlieënde Hollander misterieus in jou
hawe sal invaar, dat daai loterykaartjie se nommers reg sal val.
Sit
jou wense om in besluite. Gaan dink vir ʼn slag wat jy glo en hoekom jy dit glo
(jou paradigmas en lewensbeskouing). Gaan kyk vir ʼn slag wat is jou waardes
waarvolgens jy leef en jou gewoontes waarmee jy dit voed. Gaan vra vir ʼn slag
hoekom word my wense nie waar word nie.
Miskien
net kan ons 2016 ongelooflik positief eindig omdat wense, besluite geword het,
ons besluite in beter gewoontes verander het en ons gewoontes in aksieplanne
oorgegaan het wat verbysterende resultate gelewer het en daai “wens” toe in
werklikheid omskep het.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking