Nou die ander dag, vóór die groot hael, vaar ek die
tuin in met die snoeiskêre. Ek doen so nou en dan so iets. Ek weet nie wat dit
in my konstitusie is nie, maar dit maak nie saak of dit in my eie lewe is, my
admin, my e-posse of by die werk nie, maar ek moet maar net alewig skoonmaak,
uitsorteer en van dooie hout ontslae raak.
So vaar ek die tuin binne met dié instrumente,
aanvanklik net met die idee om ʼn paar dooie takke en boomvaringblare wat ek
raakgesien het, af te sny. Maar dit word ʼn hele operasie waarin oopgesny en van
alles wat dood en uit plek is, ontslae geraak word.
ʼn Groot snoeiskêr vir die groot takke en blare en die
kleintjie vir die fyner werk.
En iets soos ʼn wonder ontvou hier voor my oë. Dit is
asof daar weer lewe in die plant en in die bedding kom. Ander struik en blom
wat verswelg is, kom weer na vore. Dis skoonheid van die plante steek weer kop
uit nadat ál die dooie goed eers weggesny en uitgehaal is.
In die volgende paar blogs, hier in hierdie afdeling
en ook in van die ander afdelings, wil ek skryf oor die snoei van die dooie
takke in ons lewens in die verskillende areas of fasette en sal ek verskillende
dele hiervan aanraak.
Ek dink hier in die begin van die jaar is dit nogal
van toepassing.
In die natuurlike werk dit so. Sommige mense hou van ʼn
digte boskaas in hul tuin en los alles om net te wild groei. Maar gaan kyk na
die tuine wat regtig jou aandag trek. Wat die pryse wen en in die tydskrifte
pronk. Dit is dié tuine waar alles netjies versorg en afgerond is.
Wanneer ons in die bos ingaan, dan verwag ons die
woeste, die onversorgde, maar wanneer jy in ʼn tuin loop, moet dit versorg wees.
So ook as dit by boerdery kom. Soos die prentjie bo. ʼn
Onbesnoeide wingerd lyk totaal onversorg. Jy dink by jouself hier is ʼn sleg
boer. Hier is iemand wat nie omgee vir sy boerdery, sy sak en homself nie.
So ook met mense. Soms trek die wildes jou aan om een
of ander rede, maar wie is die mense wat werklik die wêreld positief verander
en bestuur? Sal jy werklik jou vertroue stel in iemand wat totaal onversorgd is
in sy liggaam of siel?
Nou my slim landboukind, die boer, verduidelik vir my
dat die snoei van bome en plante nodig is sodat daar meer sonskyn op die blare
kan kom wat die vrugte beter laat groei.
Dink aan die groot werk in die winter voor die lente
kom, dan word die vrugtebome, wingerde en rose gesnoei. Àl die dooie takke en
lote wat uit plek is word weggesny. Sodat daar minder takke en lote is.
Sodoende groei die plant beter, kry meer son en lewer beter vrug.
Dooie goed veroorsaak gebrekkige groei, swak vrugte en
swak oeste. En maak dit boonop moeilik om by die ou patetiese vruggies uit te
kom.
Trek dit deur na ons lewens op ʼn sielsdimensie vlak.
Hoe meer dooie hout jy in jou emosies en verstand ronddra, hoe moeiliker kry jy
son, hoe slegter lyk die oes van jou lewe. Hoe moeiliker is dit vir ander mense
om die ware jy raak te sien en te waardeer. Hoe moeiliker vir jou om jou bydrae
te lewer daar waar dit nodig is. Om jou beste vrug na vore te kan laat kom.
Daarom is dit nodig om van die dooie goed ontslae te
raak. Meer is nie altyd beter nie, veral as dit kom by ons funksionering.
Wat is die goed wat ons verhinder om goed te
funksioneer?
Kom ons begin by een groot dooie tak, die verlede.
Baie mense leef in die verlede, en hoe ouer hulle
word, hoe beter raak die goeie ou verlede waarin hulle leef.
Sommige goed uit die verlede waaraan hul vasklou is
positief en sommige is negatief. Vandag gaan ek by die positiewes stilstaan en
volgende week na die negatiewes kyk.
Ja, dis nie altyd die slegte goed wat mense verhinder
om aan te gaan met die lewe nie. Dit is dikwels die goeie dinge wat gebeur het.
Maar ons kan nie net leef in die goeie goed van die verlede en nie die goeie
goed wat vandag met jou gebeur, rondom jou is en die goeie mense wat nou in jou
lewe is, nie raaksien nie.
Soms wil mense beweer daar is niks goed in hul huidige
situasie nie. Dít dikwels omdat hulle só in die “goeie ou verlede” leef, dat
hulle ophou bestaan het. Maar dit is doodeenvoudig nie die waarheid nie. Dit is
dikwels ál hierdie dooie takke wat verhinder dat hulle die son sien en toelaat
om op hul blare te skyn sodat die vruggie kan ontkiem en sappig word.
Kom ek noem enkele van hierdie goeie ou verledes:
1. Prestasie. Dit is iemand wat uitmuntend, veral in sport presteer het
toe dié persoon jonk was. Maar kompeterende sport het ongelukkig ʼn vervaldatum.
Nee regstelling, kompeterende sport op sekere vlakke of in sekere kodes het wel
so ʼn vervaldatum. Maar mense tot in hul negentigs presteer nog in sport en stel
rekords op. Een van die dinge wat my die meeste inspireer, is wanneer iemand op
ʼn hoë ouderdom nie toelaat dat die lewe ophou nie, maar steeds alles insit om ʼn
rekord op te stel. Soos Arthur Webb, ʼn ultramarathon-atleet op 72. Of Olga
Kotelko wat op 94 17 baan en veld rekords in haar ouderdomsgroep hou en steeds
lid van die VSA se Meesterspan is. Nader tuis is daar Japie Malan wat op 92 in
2012 op ʼn tandem-fiets en in 2010 op sy eie op 90-jarige ouderdom, die oudste
deelnemer aan die Argus-fietswedren is. Wally Hayward het ʼn Comrades-ultramarathon
loopbaan van 60 jaar gehad en is die oudste persoon nóg om dié wedloop te voltooi.
Hy het in 1989 op die ouderdom van 80 jaar die Comrades net in tyd voltooi. Hy
is dood in die ouderdom van 97 jaar. Om dus te leef in die goeie herinneringe
aan die prestasies in die verlede en nie die kanse van vandag te gebruik nie,
of jy nou 40, 50 of 80 is, is om toe te laat dat dooie hout in jou pad staan om
die sonskyn en lewe te geniet.
2. Mense. Die lewe is nie altyd regverdig nie en laat ons soms deur
ernstige verlies gaan. Die dood is egter deel van die lewe op aarde. Hoekom dit
gebeur dat iemand se lewensmaat op ʼn jong ouderdom sterf, of ʼn kind of ʼn ouer
of familielid wat jou emosionele steunpilaar was of ʼn goeie vriend of vriendin of
selfs ʼn werkgewer, kan ons nie verklaar nie. Ons het nie die antwoorde nie.
Punt. Die lewe hou egter nie op wanneer iemand sterf nie, hoe swaar en moeilik
dit ook al is. Dit is ook nie altyd dood nie. ʼn Egskeiding of siekte kan dalk
iemand van jou af wegneem. Ongelukkig hou sommige mense op om te bestaan en bly
vasklou aan die persoon. Weier om aan te gaan met die lewe. Soms is dit uit
emosionele afhanklikheid aan die persoon, soms is dit net uit die groot gemis
van iemand wat nie meer daar is om mee te gesels en goed saam te doen nie. Of
soms kan dit wees omdat mense hul hele bestaan om ander mense laat wentel. Die
herinnering aan die persoon is positief. Dit is kosbaar en iets wat jy altyd
sal bly koester. Dit is egter belangrik om afskeid te neem, te rou en dan te
snoei, sodat die son op jou blare kan skyn in ʼn nuwe seisoen en weer nuwe vrug
in jou lewe na vore laat kom.
3. Jeug. Byna soos met sport, maar in ʼn wyer sin, klou baie mense vas
aan hul jeug of jong dae of doodeenvoudig aan die persepsie van jeugdigheid.
Die energie en lewenslus en ál die wonderlike dinge wat in hul jong dae,
studente tye en jong getroude lewe gebeur het. In ons samelewing wat al hoe
meer jonkheid as ʼn deug of waarde wil voorhou, maak dit nóg moeiliker. Elke
plooi, elke seer spier, elke bietjie meer inspanning om dinge te doen wat
vroeër maklik was, word ʼn swakheid of ʼn krisis. Die samelewing het ʼn
geneigdheid om mense te laat glo dat as jy nog nie presteer het of skatryk is
teen 40 nie, jou lewe verby is. Van daar af is dit net afdraande pad. In stede
daarvan dat mense die deugde en goeie dinge sien wat wel met ouderdom saamkom.
Dit is so dat daar deesdae meer mense is wat op ʼn jong ouderdom presteer en
sukses behaal. Maar die meerderheid raak maar net weg in die massas. Diesulkes
is dus die uitsondering en nie die reël nie. Wat egter vergeet word is,
statisties, dat die grootste aantal mense sukses, in menige veld, eers bó die
ouderdom van 50 behaal. Daar is talle voorbeelde van hoog suksesvolle mense wat
nie opgehou bestaan het omdat die wêreld sisteem sê jou lewe hou op 65 op nie.
Of wat lewensvoos is op dié ouderdom omdat hul maar net saamgesleep is in die
(korporatiewe) sisteem nie. Dis juis dié mense wat dikwels terughunker na die
jeugdigheid en wens hulle kon alles oorhê. Ek sê nie mens moet toegee aan die
ouderdom en nou skielik oud wees voor jou tyd nie. Inteendeel. Hou egter op om
te leef vir wat was en nie was nie. Hou op droom oor verlore kanse. Snoei daai
ou hout, weereens of jy nou deur middeljare krisis gaan en of jy al 70 is, maak
plek vir die son op jou blare en gryp die geleenthede aan wat nou op jou pad
is!
Die lewe is elke dag nuut. Elke
seisoen en elke nuwe jaar is simbolies vir ons dat daar altyd nuwe lewe voortspruit.
Omstandighede lyk nie altyd soos jy dit dalk graag wil hê nie, maar dit kan jou
nie keer om te lewe nie. Maar dooie takke, al was hulle baie vrugbaar op hul
tyd, kan nie weer uitspruit en vrug lewer nie. Snoei daai ou dooie takke weg en
sien die geleenthede raak om nou, in die nou, met bewustheid te leef.