Maandag 14 Maart 2016

Die leuens wat ons paradigmas (en uitkomste in die lewe) bepaal


Alle mense sal antwoord dat hul grootste begeerte of soeke in die lewe is om gelukkig of vervuld te wees en in vrede te leef.

Ons soek dit in onsself, ons verhoudings in ons huwelik en gesin, familie, kolegas, die kerk, in die wyer samelewing en helaas ook met God. Ons soek dit in ons finansies, ons beroep, ons liggame en op alle ander vlakke of areas van ons lewe.

Die werklikheid is egter dat mense weinig hierdie plek in hul totale menswees en op alle vlakke en in alle verhoudinge bereik. Sekerlik ʼn utopiese idee wat nie moontlik is op hierdie aarde nie, maar tog ʼn lewensreis en soeke wat in ʼn groot mate wel verwesenlik kan word.

Ek wil egter dadelik byvoeg dat hierdie idealisme bietjie verdraaid is. En daarom dat só baie mense in totale misrabiliteit verval die oomblik as iets skeef loop. Bitter min mense oorleef ʼn finansiële krisis, ʼn aflegging by die werk, ʼn egskeiding of ander krisis.

Dít is na my mening seker enkel die grootste rede waarom die meerderheid mense in ʼn lewe van vrees vasgeval is.

Want net soos daar die sogenaamde goeie kant is waaraan mense vasklou, so is daar die sogenaamde slegte kant. Ek sê sogenaamd, want baie keer is ons persepsie van iets wat goed of sleg is, beslis nie die waarheid nie. Byvoorbeeld die meerderheid mense, met enkele uitsonderings natuurlik, hou nie van die winter nie. Maar is die winter net sleg? Het ons winter ook nodig? Is daar nie dele van die winter wat eintlik baie lekker en aangenaam is en ander dimensies van die lewe na vore bring nie? Ek weet meeste sal aspris wees en net nee sê, maar as ons eerlik met onsself moet wees, besef ons dit is die waarheid.

In ʼn mens se soeke na geluk, word ons keuses, gewoontes en standaarde egter hoofsaaklik bepaal deur ons paradigmas. En dit is nou waar die probleem sy kop uitsteek. Baie van ons paradigmas is gevorm of word gevorm deur ʼn standpunt wat ons baie keer as die waarheid aanvaar, maar wat eintlik ʼn leuen is.

Dus om werklik ʼn plek van stille tevredenheid en geluk te vind, moet ons dikwels van hierdie onkruid in ons koppe ontslae raak.

Wat is van hierdie onkruid of leuens? Ek raak net aan so paar.

  • Tradisie

Nou voordat iemand dink ek gaan ʼn aanval teen tradisie loods, glad nie. Tradisie is eintlik ʼn redelik neutrale onderwerp, iets wat in ʼn groot mate redelik buigbaar is. Tog is daar sekere tradisies wat eie is aan elke volk en kultuur.

As wit Afrikaners is ons byvoorbeeld baie erg oor ons braai en ons rugby. En dadelik sal ʼn paar mense opspring en sê hulle kyk nie rugby nie, of assosieer hulself nie met die rugby-kultuur nie. So ook ken ek mense wat nie ʼn vreeslike erg aan ʼn braaivleis het nie, maar dit tog sal geniet wanneer daar saam met vriende of by die werk of kerk of iets dergeliks ʼn braai-geleentheid is.

So ja, dit is ʼn veralgemening, maar die groter meerderheid mense assosieer hul met sekere kultuur elemente.

Daar is egter ander waardes wat verander. Baie van my geslag dink oor sekere aspekte van ons kultuur nie meer dieselfde as ons ouers nie. En my kinders dink weer anders oor sekere goed.

Die punt wat ek wel wil maak is dat ons kultuur dikwels baie dieper vasgelê is as wat ons besef.

Soos wat daar baie kosbare kleinode is, word ons egter dikwels ook lamgelê met sekere negatiewe aspekte in ons kultuur.

Ek wil nie op die verskillende aspekte ingaan in dié blog nie. Dalk êrens in die toekoms. Hier gaan dit meer om die beginsels vas te lê.

Dikwels is sekere gedrag, wat negatief tot jou funksionering kan wees, die leuen wat jy net onbewustelik glo omdat jy so groot geword het,  sonder om dit  krities te beoordeel wanneer dit jou negatief beïnvloed.

  • Gesin en familie bygelowe en gebruike

Elke gesin en familie is uniek. So ook het elke huis sy kruis het die ou mense geglo. Dít het ek gesien kan nogal die waarheid wees.

Die een gesin of groter familie het byvoorbeeld ʼn ding vir visvang, die ander lot gaan jag en nog ʼn ander het ʼn geskiedenis van kerklikes.

Natuurlik is dit weereens nie noodwendig ʼn probleem of negatief nie. Maar wat van die individu wat nie inpas nie, wat dalk ʼn kunstenaar is. Of akademies uitstyg in ʼn familie wat gemiddeld is en as hande-arbeiders werk of andersom. Of as daar ʼn persoon is wat die kas se deur oop pluk en trots is op sy of haar alternatiewe seksuele oriëntering in ʼn familie waar so iets ʼn groot taboe is en as ʼn skande afgemaak word.

Weereens is die meeste familie waardes, gebruike, gelowe en bygelowe in jou as mens vasgelê lank voor jy ʼn keuse gehad het of jy daarmee sou saamstem al dan nie. Hierdie goed word deel van jou DNA gemaak voordat jy soms nog kan loop of praat.

Ekself is van oortuiging dat ons tradisies en ons gesins- en familiegedrag  bloot aangeleer is. Daar is bitter min daarvan werklik in die gene. Dit bepaal egter ʼn groot mate ons geloof in onsself en ons vermoëns, ons leierskapsvermoëns en styl, ons hantering van krisisse en ons manier van dink en praat.

Natuurlik is dit waar na beide kante toe. Ons is ontwerp om só ons plek en stans in die lewe te vind. Dus is daar gewoonlik ewe veel goed en sleg. Dit is egter dikwels die negatiewe goed wat ons kniehalter sonder dat ons dit besef.
Baie mense gaan mos uit van die standpunt, so gemaak, so gelaat staan. Wel, jy het op die ou einde ʼn keuse of jy so gestaan gaan bly.

Dikwels is mense vasgevang in ʼn negatiewe selfgeloof of vrees weens familie geskiedenis. Ek het al so baie gehoor dat iemand byvoorbeeld sê: “Ons familie het ʼn geskiedenis van hartsiektes. My oupa is dood aan sy hart, so sy  broer en my pa op 55. Ek glo nie ek gaan ʼn lang lewe hê nie.” En dan is dit presies wat gebeur. Selfvervulde profesie.

Die teenoorgestelde gebeur gelukkig ook dikwels. Juis in reaksie op die gesin of familie se geskiedenis en waardesisteme staan ʼn persoon op daarteen, styg uit en bereik groot sukses.

  • Godsdiens

Ek wil nou nie te veel hierop ingaan nie, maar ek het wel besluit om godsdiens in hierdie blog te noem omdat dit soveel mense se gedrag, vrese en gebrek aan funksionering bepaal.

Omdat baie mense van kleins af groot gemaak word met sekere godsdienstige oortuigings, wette en vrese, hou dit hulle gevange vir die res van hul lewens.
Godsdiens is een van die mees kragtigste slawedrywers wat daar is, want gemeng met emosies, vrees en skuldgevoelens kan dit ʼn mens se funksionering totaal en al lamlê.

Die teenoorgestelde gebeur natuurlik ook dat mense baie keer in rebellie probeer wegbreek van hierdie bande en dan hul wortels verloor, of dalk juis vryheid vind.

Wat dikwels egter nie besef word nie, is hoe diep hierdie geloofstelsels in die onderbewuste waardesisteme vasgelê is.

  • Media

Die media is die een  sisteem wat nie soseer ʼn invloed op jou lewe van kleins af gehad het nie – behalwe nou deur animasie flieks en kinderprogramme – maar wat veral in later stadiums van jou tienerjare af ʼn geweldige invloed op jou lewe uitoefen.

Die media beïnvloed die onderbewuste gewoonlik so subtiel dat dit jou waardesisteme kan skuif of vrees inboesem sonder dat jy dit besef.

Hoeveel van die paranoia byvoorbeeld oor geweldsmisdaad is die gevolg van die media wat jou daagliks bombardeer met gruwelike stories van onmenslike wandade wat teen individue gepleeg word. Deur dit groot aan die klok te hang en letterlik in te prent in jou. En natuurlik is dit walglik en moet met die grootste weersin veroordeel word.

Maar is dit werklik die realiteit? Is dit statisties werklik die geval dat dit wat voorgehou word die volle waarheid weerspieël?

Baie jare in die media het my geleer dat nuus is bloot die opinie van ʼn persoon of persone. Dit wat die koerant gaan verkoop deur die sensasie wat daaraan gekoppel word.

As gevolg van die feit dat misdadigers, soos bendelede, dikwels helde status geniet deur op die voorblad van die koerant te pryk, word die bose net gevoed en verdiep die bose kringloop al meer. Skielik word iemand wat niks is nie, geen toekoms het nie en die skuim van die aarde is, se gesig deur ʼn miljoen mense gesien. Skielik boesem die noem van sy naam vrees in by die man op straat. In ons sensasie soekende, heldevererende wêreld maak dit dikwels nie saak wat die rede is dat jy gewild is nie, solank jy net bo die res van die gespuis kan uitstyg.

Nog ʼn voorbeeld. In samehang met die vorige punt. Die grootste aantal mense van my geslag het in die kerk groot geword met dié waardesisteem, naamlik dat saambly en saamslaap voor die huwelik “sonde” is. Maar gaan vra die meerderheid mense uit dié generasie en jy mag dalk vind dat net die minderheid behoudendes nog bevestigend daarmee saamstem. Vir jare is hierdie waardesisteem op verskeie platforms in die media uitgedaag. En heelwaarskynlik soveel so dat toe jy die eerste keer seks gehad het nog voordat jy getroud is en uitgevind het hoe lekker dit is en toe nie deur ʼn weerligstraal gedood is nie, het jou waardesisteem dalk bietjie geskuif.

Hiermee sê ek nie dat die media net sleg of “boos” is nie. Ek dink teen die tyd weet alle gereelde lesers van my blogs dat ek graag sekere geloofsisteme aanvat, net omdat ek dink dit is belangrik dat ons weet hoekom ons sê ons glo iets wat ons glo.

Die media het ʼn baie belangrike rol om te speel en het nodig om standpunte en verkeerdhede aan te vat, maar sensasie, eensydige emosioneel, onverantwoordelike en ongebalanseerde joernalistiek om aandeelpryse hoog te hou, is beslis nie deel van die media se verantwoordelike rol in die samelewing nie.

Die punt hier is dat dit dalk soms nodig is om jou waardes en standpunte te gaan toets, veral in vandag se kultuur wat behep is met sekularisme, image gedrewe en politieke korrektheid. Om jouself die vraag te vra is dit die ware ek, of ʼn beeld wat ek probeer voorhou wat my beroof van die lewe?   

  • Skool en onderwysers

Die laaste groot invloed op ons lewens is die skoolsisteem en onderwysers wat ʼn rol in ons lewens gespeel het.

Ek is seker elkeen kan vertel van ʼn onderwyser of onderwysers wat ʼn geweldige positiewe invloed in jou lewe uitgeoefen het.

So is daar ook die onnies wat ons gehaat het of wat ons tot in die grond afgebreek het.

Ek onthou ʼn laerskool waar ek gereeld saam met ʼn vriendin gekom het. Wat my stomgeslaan het was ʼn Juffrou in gr. 2 of 3 wat, maak nie saak watter tyd van die dag jy by die skool gekom het nie, uit volle bors op die arme kinders geskreeu het. Sonder ophou. En niemand met gesag het niks daaromtrent gedoen nie.  Dit het my nogal laat terugdink aan my slegte skool ervaringe in die junior grade.

Omdat die kind in hierdie fase nog soos ʼn spons sonder die kritiese fakulteit is, kan dit ongelooflike goeie of slegte resultate vir die res van die individu se lewe inhou.

So ook is die hele skoolsisteem daartoe ingestel om ons in die worsmasjien van die samelewingswaardes uit te druk. Dít bepaal baie mense se lewens, gedrag en hantering van die lewe.

Soms is dit goed as ʼn sekere slegte patroon hom in jou lewe herhaal sodat jy kan teruggaan om te gaan kyk of daar dalk ʼn wortel hier lê wat jou in paradigmas laat vasval en keer om ʼn deurbraak te beleef.


Oplossing? – Jou brein is ʼn lewende orgaan.

Die goeie nuus is dat ons nié uitgelewer is aan enige negatiewe gedrag of denkpatrone in ons lewens nie.

Dit is nie noodwendig die slegte goed wat ons kniehalter nie. Slegte goed wat met ons gebeur kan ons soms juis motiveer om die situasie om te keer en te verander. Soms is dit egter goeie goed wat gebeur het wat ons denke negatief beïnvloed met gemaksugtigheid, gebrek aan dryfkrag of onvermoë om konflik of krisisse te hanteer.

Die menslike brein is seker die mees gesofistikeerde skepping wat daar is. Die brein het die ongelooflike vermoë om enigiets te kan verander indien dit daartoe gedring word.

Die brein is so ontwerp om vir ons eie oorlewing, neurale paaie te skep wat in geloofsisteme en gewoontes na vore kom.

Ongelukkig is dit waarin die meerderheid mense vir die somtotaal van hul lewens in vasval met enkele kopskuiwe langs die lewenspad.

Maar jou brein, die ongelooflike orgaan wat dit is, het die vermoë om te skep en te herskep, om te evalueer en te verander en aan te pas.

Ons is dus nooit uitgelewer aan hierdie leuens uit ons kinderdae waarin ons dikwels vasgevang is en die koers van ons lewens vir ʼn lang tyd bepaal nie. Ons kan dit verander. Met die regte dryfkrag en tegnieke kan ons die koers van ons lewensreis verander en ʼn beter lewe verder lei.

Paradigmaskuiwe en gevolglike koersverandering is moontlik. Jy is nié die slagoffer van die leuens nie, jy is die bepaler van jou waarheid en jou toekoms.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking